Kliek hier vir Mfezi-4X4 toere

FOTO-JOERNAAL: 'N DAG MET VIERWIELVOERTUIE IN DIE ONGOYE-OERWOUD [Afrikaans]

1. 2. 3.

1. Dis vroeg-oggend en ons sien uit na 'n 4X4-dag in 'n ongerepte oerwoud, in die Ongoye, 'n lae bergreeks wat van suid tot noord omtrent 20 km van die Zoeloelandse kus strek. Net vierwielvoertuie kan hier kom. Plek-plek spin die wiele teen die steiltes op die gladde gras. 2. Op die eerste kruin groet 'n skilderagtige boom ons waar dit bo 'n wuiwende grasland troon. 3. Johannes sit op een van Obelix se baie menhirs terwyl ons die oerwoud agter hom met verkykers fynkam. Hier kom drie plantspesies voor wat uniek is tot die omgewing.

4. 5. 6.

4. Om hier te kom, moes ons alreeds die voertuie in vierwielaandrywing sit. 5. Agter die voertuie strek die woud oor 'n gebied van 100 vk km. 6. Ivar is ons toergids. Hy het die roete ontwikkel en is 'n bron van boeiende inligting oor die geskiedenis, dierelewe en plante van die omgewing.

7. 8. 9.

7. Errol en Barbara soek na Eshowe, ongeveer 40 km na die binneland. 8. Ons konvooi hou stil om na die stomp van 'n bloekom te kyk wat ten minste 'n honderd jaar oud moet wees. Die Parkeraad het al 'n geruime tyd gelede al die indringerplante verwyder. Elsabe, Ivar se vrou, staan voor die voorste voertuig. 9. Na 'n fris stappie bereik ons die volgende koepel-kruin, vanwaar ons die ligging van Bulawayo, koning Skaka se eerstydse hoofstat verken.

10 11 12

10. Terug by die motors vind ons dat 'n groepie beeswagtertjies ons motors opgepas het. Hulle word beloon met Coke. 11. Dan durf ons 'n kronkelroete aan wat ons vir 10 kilometer op en af deur nou en amper onbegaanbare bospaaie neem. 'n Mens kan nie anders as jou te verkyk aan die magtige kruine bokant jou nie. Wildevy, witstinkhout, geelhoutbome is volop. 12. Minnie en Johannes staan in 'n ligkolletjie in die donker woud.

13 14 15

13. Middagete word by die oorsprong van die Umlalazi-rivier genuttig. Dis moeilik om te dink dat die rivier wat laer af nog krokodille in het en so wyd by Mtunzini uitmond, so 'n nederige begin het. 14. Die woud is deurtrek van skoenlappers wat om die welige rankplante fladder. Ons soek orgidee" in die boomtoppe. 15. In 'n oopte in die woud, kan Ivar se Pajero 'n bietjie vinniger ry. Andersins kruie ons deur ongelooflike tonnels in die plantegroei.

16

16. Teen vieruur die middag ry ons deur die laaste stukkie woud. Binnekort sal ons 'n asemrowende gesig sien: massiewe, grasbedekte heuwels met klossies woud in die onderste hange. 'n Mens voel asof jy oor die dak van Zoeloeland ry. Dit was 'n onvergeetlike rit, en een wat jy graag met alle natuur- en vierwiel-liefhebbers wil deel. Ons het die hele dag geen enkele ander voertuig of besoekers teekom nie en die stilte van die bos net vir onsself gehad. Die boeke wat ons oor voe"ls, skoenlappers, slange en bome saamgeneem het, het ons goed te pas gekom. Vanaand sal ons in dettol bad net ingeval 'n verdwaalde bosluis 'n kans probeer vat.

Saamgestel deur Bobby Loubser (kliek vir tuisblad) op 9 Mei 1999. Fotos geneem met 'n Casio QV10a, digitale kamera.

E-pos Ivar Berg vir inligting en besprekings. Kliek hier vir Mfezi-4X4 toere se tuisblad.

Sleutelwoorde: Mtunzini, Afrikaans, Ivar Bergh, Bobby Loubser, Ongoye, Zoeloeland, 4x4, 4X4