DIE BETONING VAN ONS EERBIEDKyk ieder 'n man waterpas in die oë: jou vader was ook 'n man; maar haal jou hoed vir 'n vrou af, want jou moeder was 'n vrou.
In sekere opsigte kan geeneen van ons onafhanklik wees nie. Ons vorm lede van 'n ingewikkelde ekonomiese stelsel en elkeen dien al die ander in ruil daarvoor dat al die ander hom dien. Die ryk man het 'n skoenpoetser nodig as hy nie self sy skoene wil poets nie; die boer het 'n winkelier nodig, 'n transportryer, 'n ysterfabrikant, 'n mynwerker, as hy nie met 'n beeshoring wil ploeg nie. Maar juis die stelsel wat vir ons afhanklik maak, die maak vir ons onafhanklik: die skoenpoetser kan huur opgee en 'n ander diens gaan soek.
Daar kan tye kom wanneer ons nie elke man in die oë kan kyk nie. Maar dan het ons dit self só bewerk. Die man wat jy jou skuld nie aan betaal het nie; die man wat jy sy reg van onthou het omdat die wet nie volmaak is of die regter alwetend nie; die man wie se karakter jy belaster het uit nydigheid omdat hy beter is as jy; die man wat van jou geheime skande weet en genoeg van 'n fatsoenlike man is om dit vir homself te hou: en meer ander - as daar ander is in jou geval, hoef ek jou nie van hulle te vertel nie - dié mense, sê ek, kan jou nie in die oë kyk nie. Sover as hulle betref het jy jou mannelike onafhanklikheid verkoop vir 'n prys wat minder werd is as niks in die mark van jou gewete en in die weegskaal van jou God.
Wat sal ek van my moeder sê? 'n Man het vir haar die soort gevoel wat dit heiligskennis sou wees om aan 'n ander te fluister en 'n gruwel om luide mee te roem. En 'n weerskyn van die gevoel, ook as sy nie meer daar is nie - ja, te meer as sy nie meer daar is nie - kom voor ons geestelike oog as ons aan al die moeders van ons volk dink in die verlede, en die toekomstige moeders rondom ons van ons nageslag. Daar is slegte van hulle rondom ons - mag dit nie óns wees wat van hulle gevalle engele gemaak het en nou die eerste klip wil gooi nie! Onder bittere lyding het hulle ons in die wêreld gebring; met die sagte hand van 'n liefde wat ons nie kan begryp nie het hulle ons kinderswakheid verpleeg; op ons growwe weg van werk en stryd het hulle steeds vóor ons gehou die lamp van 'n hoë ideaal. Wat hoog en edel in ons is het hulle aangekweek; laat ons nie van ons krag gebruik maak om hulle liefderyke gedienstigheid tot slawerny te verneder nie. Jou hoed af, maat, met nederige aanbidding: dis 'n vróú daardie!