DIE WAARDERING VAN ONS EGGENOTEWaardeer jou vrou soos die appel van jou oog. Dis nie 'n geringe saak dat daar iemand is wat onderneem het om haar hele lewe met jou te verslyt nie.
Jy sal wel nou en dan hoor dat iemand van jou geseg het hy kan jou nie verdra nie. Soos gebruiklik is, sal dit agter jou rug gesê geword het; en soos ook gebruiklik is, sal dit deur 'n derde persoon aan jou oorgedra geword het. Die aanmerking sal jou seergemaak het en jy sal bitter gevoel het teen die man wat dit geuiter het. Want niks grief ons só as om in ons eieliefde gekrenk te word nie. Maar probeer jy ooit om 'n verskoning te maak, om 'n ekskuus te soek, vir die buurman wat nie van jou hou nie? Ondersoek jy ooit of hy nie taamlik rede het vir sy teesin nie? Probeer nou eenmaal om jouself te sien soos hy jou sien, om in jou eie oë te kyk, om jou te beoordeel asof jy nie jy was nie maar 'n blote voorwerp om sonder persoonlike voorkeur of partydigheid te bestudeer. Plaas jou gees daarbuite op 'n afgesonderde standpunt en bekyk die gebrekkige verskynsel wat nou vir die eerste maal onder jou aandag kom. Jy sien voor jou 'n liggaam wat kortkom aan skoonheid: waaraan jy die bou, die kleur, die gelaatstrekke, die uitdrukking, in honderde opsigte sou moes verander (as die verbetering in jou vermoë was) voordat hy artistiek volmaak was. Jy luister na die stem wat uit die liggaam te voorskyn kom en hy is min musikaal; ontevrede met die klank, ondersoek jy die uitspraak, die woordekeus, die taalvorm, en dié weer stel jou teleur. Jy trek jou aandag van die vorm af en bepaal hom by die inhoud; jy gaan die betekenis van die woorde na, die waarde van die gedagtes wat daardeur by benadering uitgedruk word; en wat verstandig is, vind jy is nie origineel nie; en wat origineel is, is nie verstandig nie. Hier is 'n sotheid, daar 'n gemeenplaas; min van die gedagtes was die moeite werd om te dink, nog minder die moeite werd om te uiter. Jy bekyk die skepsel oor die algemeen: hier is 'n maniertjie, daar is 'n aanwendsel, ginds is 'n houding: die hele voorwerp, in sy dele en in sy geheel, in sy uiterlike en in sy inwendige, is onaantreklik en onlieflik. Kan jy die smaak van die buurman veroordeel wat só 'n gedoente "nie kan verdra nie?"
En tog, dit is die ding wat jy jou vrou mee opskeep. Daarmee word sy elke oggend wakker, daarmee raak sy elke aand aan die slaap. Die spookgestalte, die wangedrog, vergesel haar deur haar lewe: dié dien sy en bedien sy en pas sy op en liefkoos sy. En al die foutjies en houdinkies (ek neem dit dat daar nie ál te growwe by is nie) die het sy lief as onafskeibare trekke wat help om die beminde geheel te vorm. Voorwaar, haar liefde bedek 'n menigvuldigheid van kwaad! En om dié liefde, wat jou nie net kan verdra nie (al is daar soveel rede vir die teenoorgestelde) maar jou op haar hart dra, en in haar hart, en in die binneste van haar siel; om dié liefde, o man, wat jou uiterste verdienste oneindig oortref: om dié liefde, waardeer jou vrou!