DIE ONSINNIGHEID VAN ONS BLUFDaar is honde wat maar net hoef te knor. Dit is dié wat reeds tevore gewys het dat hulle kan byt.
Vir die honde wat blaf hoef jy net te koets en na die grond te gryp al lê daar ook nie 'n klip rond so groot as 'n korreltjie sand nie: hulle vlie om, stert tussen die bene. Hulle wou jou met 'n ledige dreiement verskrik, en hulle word self bang vir jou dreiement wat nog lediger is. Shakespear sê jy moet oppas vir twis, maar as jy daarin is moet jy jou so gedra dat jou teëparty in die toekoms vir jou sal oppas; en die een woord van hom beteken meer as my hele bladsy. Jy moet nooit jammer wees vir die man wat jy mee baklei nie: as jy so goedhartig is gee dan liewer in aan sy onreg, en staan stil dat hy takel as jou mooipraat nie wil help nie: maar solank as jy terug-slaan, slaan seer. Bakleiery is van self so 'n slegte ding dat jy dit nie boonop nog sleg moet doen ook nie. Daar is 'n tyd om skiklik en redelik te wees: maar dit is vóór die geveg; en daar is 'n tyd om grootmoedig of vergéwensgesind te wees (na gelang van die uitslag) maar die tyd is ná die geveg. Daar is nie 'n ding in die wereld wat dit meer die moeite werd is om goed te doen nie as baklei. Verloor só dat jy jou nie hoef te skaam nie, of win só dat jy nie more weer dieselfde moeite het nie. Die man wat die bekwaamste spook het die minste nodig om sy bekwaamheid aan die dag te lê.
Daar is 'n vorm van dobbelary met kaarte (ek weet nie hoe die speletjie gedryf word nie en selfs nie die naam nie. Ek dobbel nie, en ek gun my die roem om daaroor te spog omdat daar voldoende ander swart merke op my rekening is) - maar daar is 'n vorm van kaartspel waarby die kuns bestaan in wedersydse "bluf." Die soort "bluf" het ek ook opgemerk by die skikking van waterprosesse, en by die bie op grond-vendusies. Maar dit lyk altyd vir my 'n onnosele soort taktiek wat ewe goed op jou kan terugslaan as op jou vyand. Maak jou gereed om jou ultimatum op te volg en stuur hom dan. Anders moet jy straks mooipraat om jou handskoen weer terug te kry, en by 'n volgende geleentheid sal selfs jou mindere nie van hom notiesie neem nie.
Daar is ouers wat hulle kinders heeldag waarsku en nooit straf nie. Hulle sou beter handel om die kinders liewer uitdrukkelik permiesie te gee om kwaad te doen. Dan sou hulle ook maar die kwaad doen wat die ledige verbod hulle nou nie keer om te doen nie, maar hulle sou nie hulle respek verloor vir die ouers en vir die heiligheid van 'n gegewe woord nie.