DIE YDELHEID VAN ONS WOORDEJou ore is oop as jy hulle nie eksprés toemaak nie, en jou mond is toe as jy hom nie eksprés oopmaak nie. Dit wys die bedoeling van die gebruik daarvan.
As dit so is, waarom skryf ek dan? My pen is maar 'n ander tong: en 'n doelmatiger: hy is honderd tonge, duisend tonge, volgens die hoeveelheid eksemplare van hierdie geskrif wat my uitgewers mag regkry om van die hand te sit. Hy is'n tong wat spreek myle ver waar ekself nie kom nie - hy is 'n tong wat sal spreek - altans dit is wat ek bedoel as my eie tong tot sy uiteindelike stilte gebring is in die graf. En hiér skryf ek, en dáár skryf ek: na my sin is daar nie ore genoeg vir my tong nie. Waarom gebruik ek dan self die gereedskap so oorvloediglik waarvan ek sê die gebruik moet beperk wees? Ek kon nou hierop antwoord dat dit is omdat ek meen dat ek iets van waarde het om mee te deel - maar die antwoord sou niks beteken nie, want die oppervlakkigste kaf-babbelaar reken ook dat hy iets van waarde het om mee te deel, anders sou hy sy mond hou.
Op 'n liberale kans-berekening bestaan die oorstelpende meerderheid van 99 persent van geskrifte uit kaf. Die nageslag sif dit en behou die een persent vir graan en hy word 'n klassiek van die literatuur. En die een wat oorbly is vir die wereld duisendvoudig die moeite werd wat bestee was aan die 99 wat vermors word. Die tuinier sou geen vrugte kry as hy éen vir éen blaar wat uitspruit sou afknip nie. Laat my werk maar onder die blare tel, as dit maar mag meehelp om die vrugte van andere te voorskyn te roep.
Eintlik is die vergelyking tussen die tong en die pen nie 'n billike nie. Jou ore is oop en die geklap van 'n bedrywige tong dring in of jy lus het om te luister of nie. Die boek forseer homself nie op jou aandag nie. Jy hoef hom nie te koop nie; as jy hom het hoef jy hom nie oop te maak nie; as jy moeg is kan jy hom weer toeslaan. Hy is nie op hoffelikheid gesteld nie. Hy is altyd dienswillig, maar hy dring sy diens aan niemand op nie. En die mondelinge babbelaar weer, is gewoonlik nie 'n denker nie. Die skrywer is gewoonlik 'n denker - nie altyd diep nie: inteendeel. Maar tog, hy dink.
Die gelukkigste man op die we'reld is 'n kekkelbek-babbelaar. Hy is altyd opgeruimd. Daarom weer moes ek hom nie stilmaak nie. Waarom sou ek hom van sy geluk berowe? Om dié rede: ek dink aan die geluk van sy medemense. Hy steel hulle reputasie, hulle vrindskap, hulle ideale, hulle tyd. Eén gelukkige tong en so baie ongelukkige ore!