DIE TOETS VAN ONS RAADSLIEDEMaak staat op die raad van die man wat twyfel of dit reg is: die man wat nie twyfel nie het die saak maar van één kant af beskou.
Want twyfel is die vrug van versigtigheid, en versigtigheid is die vrug van ervaring. Daarom is 'n jonge man so heethoofdig en eiesinnig omdat hy so seker is van homself. Hy kan nie verstaan dat daar mense so dwaas kan wees om van hom te verskil nie: en tog in der waarheid die punte wat hy raaksien, en wat vir hom so oortuigend is, dié het hulle ook raakgesien - maar hulle het daarby verby gekyk en daarvandaan verder ander gesien wat hy nog nie by gekom het nie. Die knapste en ervarenste wetsgeleerde wat jy by raad soek sal sê: "ek is half geneig om te dink dat jy dit kan waag om aan te gaan met die saak." Die onkundige sal sê: "Dons op, jong, jy kan dit nooit in der ewigheid verloor nie."
Dit kos 'n geoefende denker om sy opienie in die balans te hou, en dit nie eenkant of anderkant toe te laat oorhel omdat sy informasie onvolledig is of omdat hy dit nog nie degelik gesif het nie. Die oefening wat hom daartoe bring is sy ondervinding van die baie kere wat hy al in die verlede sy kop gestamp het deur alte hals-oorkop na 'n gevolgtrekking te spring. Dit is juis hy wat voel dat daar bitterlik min vraagstukke in die wêreld is waar hy alles van weet aan albei kante wat daar te weet is en wat hy dus volkome bevoeg is om te oordeel. Eieversekering is nie 'n kenmerk van kennis nie maar van onkunde.
Die man wie se raad jy eintlik nodig het is dié wat beide jou standpunt begryp en die van jou teëparty. As hy maar net jou kant van die saak sien, dan is hy oorbodig want niemand in die wye wêreld kan mos nie so goed sien as jyself nie. As hy net jou teëparty se kant sien, dan kan by jou teëparty gelyk gee of hy ongelyk het of nie. As hy albei kante geweeg het, dan sal hy twyfel: óf die vraagstuk moet so eenvoudig wees dat jy dit by jouself moes uitgemaak het sonder om raad te vra.
Maar hoé 'n goeie karaktertrek dit by 'n wysgeer of 'n raadgewer mag wees: in die praktiese lewe betaal so 'n onbeslistheid nie. Jy moet aan ieder 'n saak soveel verstand en ondersoek bestee as jy redelik tyd voor het: en dan moet jy 'n koers kies. Dit help nie om jou span osse by die uitdraai paaie te laat lê en vrek van die dors terwyl jy beraadslaag watter van die twee paaie die eerste by 'n dam verby gaan nie. Wees twyfelagtig in jou dink, vasberade in jou doen.