SERMOEN
Als wat skitter is
nie goud nie, of: n Jakkals prys sy eie stert
Uit die briefwisseling
tussen die apostel Paulus en die gemeente in Korinte
kry ons n prentjie van die lewe van die vroeë
kerk. Ons leer uit hulle foute en word geïnspireer
deur hulle suksesse. In 2 Kor 1 is daar inligting oor
die krisis wat Paulus se veranderde reisplan
veroorsaak het. Ons verneem van ander predikers in
Korinte wat om verskeie redes agterdog teen hom
gesaai het. Aan die begin van hoofstuk 3 verneem ons
die soort argumente wat hulle teen Paulus gebruik het.
Een van die dinge wat hulle sou gesê het, was dat hy
sonder aanbevelingsbriewe of getuigskrifte by hulle
opgedaag het.
In daardie tye, sonder
telefone of faksmasjiene, was dit die gebruik dat
reisende gesante vanuit Judea na die Joodse
gemeenskappe in die stede rondom die Middellandse See
gestuur is. Dit was om in die sinagoges te leer en om
geld in te samel vir die armes in Judea, waar daar
permanent gebrek was. In 2 Kor 3:1 vind ons n
uitbreiding van hierdie gebruik. Die Joodse Christene
wat in Korinte opgedaag het, het dit teen Paulus
gehou dat hy sonder sulke briewe opgedaag het.
Paulus antwoord soos volg:
2 Kor 3:1-6 (NAV) Begin ons
weer onsself aanprys? Of het ons miskien, soos
party ander mense, aanbevelingsbriewe aan julle
of van julle nodig? 2 Julle is self ons
aanbevelingsbrief, geskryf op ons
harte, vir almal om te lees en te verstaan. 3 Dit
is tog duidelik dat julle 'n brief van Christus
is, deur ons diens geskrywe, nie met ink nie,
maar met die Gees van die lewende God, nie op
klip nie maar op die harte van mense. 4 Ons sê
dit omdat ons deur Christus ten volle op God
vertrou. 5 Uit onsself is ons nie in staat om
iets te bedink asof dit uit onsself kom nie. Ons bekwaamheid kom van
God, 6 wat ons bekwaam gemaak het om bedienaars
van 'n nuwe verbond te wees,
nie van die letter nie, maar van die Gees. Die
letter maak dood, die Gees maak lewend.
I.
Hierdie gedeelte is propvol
juwele wat predikers al een vir een uitgehaal,
afgestof en vir gemeentes voorgehou het, maar die
belangrikste sin wat hier opval, is: "Ons
bekwaamheid kom van God af, wat ons bekwaam gemaak
het om bedienaars van n nuwe verbond te wees (vs
5)."
Dit gaan om bekwaamheid; dis
om dinge te kan doen, bevoeg te wees, in staat te
wees tot iets.
Dis nogal n
interessante gedagte wat ons maar selde in die NT
teenkom. Johannes die Doper het gesê hy is nie
bekwaam om die Lam van God se sandaalveters op te
bind nie. Paulus het elders gesê: Ek is tot alles in
staat deur Christus wat my krag gee. Verder:
ouderlinge moet bekwaam wees om te leer.
Wat is dan hierdie
bekwaamheid wat van God af kom? Ken ons hierdie
bekwaamheid? Is ons bekwame Christene? Miskien is dit
die geheim waarna baie van ons, wat kerke besoek en
Bybels bestudeer, op soek is. Terwyl ons hierdie
stukkie oordink, kan ons n stille gebed bid:
Here, maar my werklik bekwaam!
II.
Paulus se teenstanders het
geredeneer dat Paulus onbekwaam is. Slegs hulle wat
met die regte aanbevelingsbriewein mooi swart
letters op papirusrolle geskryf en met n
behoorlike seël om die egtheid daarvan te wysin
die gemeentes kom, hulle is bekwaam. Hulle het die
reg en die gesag om die woord te verkondig. Dit word
nie vir ons gesê waar hulle hierdie briewe gekry het
nie, maar vermoedelik het hulle dit van vorige
gemeentes saamgebring.
Hierdie praktyk behoort nie
vir ons so vreemd te wees nie. Ons leef vandag in
n wêreld wat nogal baie maak van wat op papier
geskryf is. Sonder getuigskrifte en sertifikate kom
n mens ook vandag nie ver nie. Sinodes en
kerkrade werk met baie papier. Paartjies wat wil trou
en doopouers moes al agterkom hoe die gebrek aan die
regte sertifikate hul proses vertraag. Dinge moet
korrek gedoen word, ordelik, en dit vereis dat dinge
behoorlik in swart en wit geregistreer word.
Paulus kom met n
argument wat ons sal verras: Hy het nie
aanbevelingsbriewe aan of van die gemeente nodig nie.
Papiere beteken niks.
Dan gaan hy n treetjie
terug op wat hy sê, want hy meen hy het tog wel
n aanbevelingsbrief. Dit is die gemeente self.
Maar let net op hoe snaaks
stel hy dit, anders as wat ons vandag dit sou doen.
Hy sê nie dat mense wat die gemeente sien, sou weet
hulle is die vrug op Paulus se evangelisasiewerk nie,
en dus sy aanbeveling is nie. Hy keer die gedagte
agterstevoorom en sê: Julle is my brief, want julle
is op my hart
geskryf. Dit beteken dat almal wat vir Paulus sien en
ken en hoor hoe hy praat, onmiddellik sal weet met
watter gesag en aanbeveling hy na die gemeente toe
kom. Ons kan meer duidelikheid kry deur te vra: Nou,
as ander mense met Paulus gepraat het, wat sou hulle
omtrent die Korintiërs verneem? En die antwoord
hierop is nie moeilik nie: Hulle sou nie net gehoor
het van hoe hy deur baie ontberings heen die gemeente
in Korinte gestig het nie, maar veral hoe hulle in sy
hart leef, hoe lief hy hulle het en hulle op elke
moontlik manier op die hart dra.
Kortom: Paulus sê dit is sy
liefde vir die gemeente wat sy aanbevelingbrief na
hulle toe is. Niks meer en niks minder nie. Al staan
dit nie daar in soveel woorde nie, dit is waaroor dit
gaan. In die apostel se hart is daar liefde vir die
Korintiërs, en dit is sy aanbeveling na hulle toe.
III.
Maar Paulus sê tog iets
meer oor daardie liefde. Kom ons kyk kortliks daarna:
- Dit kom van Jesus
Christus. Hy is die Skrywer van hierdie brief
(vs 3). Liefde is die grootste geskenk wat
Jesus aan die wêreld gegee het. Dit is die
spesifiek Christelike bydrae tot die lewe van
mense op hierdie planeet. Vandag nog oefen
die liefdesbegrip van die Christendom n
diepgaande invloed oor die hele wêreld uit.
Paulus het geweet hoe ingrypend hierdie
begrip is. Dis van hom dat ons die
onvergelyklike himne op die liefde in 1
Korintiërs 13 het (al sou ek die tale van
mense en engele praat, maar het nie die
liefde nie
). Oor Jesus se hele lewe en
bediening staan daar een woord groot geskryf:
Liefde, waarvan hy die outeur en
kopiereghouer is.
- Dit is werksaam deur
die Heilige Gees (vss 3, 6). Hierdie liefde
was nie net die herinnering aan n
historiese voorbeeld van Jesus nie; Paulus
het die ervaring gehad dat die Opgestane
Gekruisigde, wat oorwin het op die weg van
die liefde, elke tree van die pad saam met
hom was. Jesus was n lewende, amper
tasbare teenwoordigheid in die lewe van die
vroeë kerk, en hulle het hierdie lewende
teenwoordigheid n Naam gegee: Dit was
die Heilige Gees, die Gees van die Skeppergod
self wat in hulle werk.
- Dit werk kragtens die
Nuwe Verbond (vs 6). Hierdie liefde wat Jesus
deur die Gees in die harte van mense
uitgestort het, was nie maar iets wat
terloops gebeur het nie. Dit was deel van
n goddelike plan om die hele wêreld te
red. Dit was die inwerkingstelling van God se
nuwe verbond met sy ganse skepping. Soos wat
God se verbond met Noag uitgeloop het in die
verbonde met Abraham en Moses, so het dit sy
finale en uiteindelike vervulling in die
verbond gevind wat God deur Jesus met die
Skepping gesluit het. En hierdie verbond., sê
Paulus, is nie soos die verbond van God met
Moses wat op klippe geskryf is nie. Dit word
op mense se harte geskryf. Dit wat op klippe
of papier geskryf is, kan maar oppervlakkig
wees. Dit kan pro forma, met die lippe,
nagekom word. God se verbond in Jesus wat
deur die Gees in aksie kom, werk in mense se
harte.
Met hierdie verduideliking
speel hy klaar met die valse apostels wat met
aanbevelingsbriewe opdaag. Hulle dink omdat hulle
stukkies papier het, hulle op sekere regte aansprake
kan maak. Voor God is daar net een soort bevoegdheid
wat tel: dit wat in mense se harte geskryf staan.
Opregte liefde. Die letter maak dood, sê hy; dis die
Gees wat lewe skep. En elke gelowige wat die krag van
die Gees in sy of haar lewe ervaar het, sal weet dat
dit die waarheid is. Dat dit die finale argument is
wat alle ander argumente stilmaak.
IV.
Waar laat dit ons vandag
hier aan die begin van die jaar 2000? Wat Paulus ons
leer, is die etiek van die Heilige Gees. Ons moet
leer om ware gesag te herken. n Mens moet leer
om jouself nie aan te beveel nie. Laat God dit doen.
Sy Gees werk deur die liefde in menseharte.
Bekwaamheid is van God.
Die punt van 2 Kor 3 is dus
nie dat mense op hulle groot verantwoordelikheid
gewys word om "briewe" te wees nie, so asof
alles van hulle voorbeeld sou afhang nie. Dis nie
eens dat die gemeente op hulle wonderlike status
gewys word as lewende "briewe" nie. Hierdie
soort moralistiese prediking verhef dit omtrent tot
die crux van hierdie gedeelte, en n mens moet
bewus daarby verbylees om by die evangelie uit te kom:
Daar is n bekwaamheid wat van God af kom. Een
wat mense, Halleluja!, kan laat sê.
Ons moet dus nie vaskyk in
die brief-metafoor wat gebruik word om die liefde van
die apostel vir die Korintiërs tuis te bring nie.
Daar is n groter verband ter sprake. Die
apostel ontmasker sy teenstanders se magsideologie.
Hulle is deel van n stelsel wat Christus met
die lippe bely, maar nie die diepgang van sy boodskap
uitleef nie. Laasgenoemde is immers diegene met die
charismatiese tekens en apokaliptiese gesigte. Dis
hulle wat glo dat die Joodse Messias n Joodse
empire gaan oprig waarin die Jode oor die wêreld
regeer. Vir hulle is Jesus n alibi vir hul eie
magspolitiek.
Van Paulus leer ons vandag
dat mense wat n mooi vertoning maak en so
gesteld is op die letter van die wet (op mooi
briefhoofde en logos, mooi blaaie op die web)hulle
is mense wat gewoonlik n verborge agenda het,
net soos die valse apostels wat so teen hom
gediskrimineer het. Soos die spreekwoord tereg sê:
n Jakkals prys sy eie stert.
***
Sinodes en kerkrade werk met
baie papier. Daar is allerlei registers en
sertifikate. Maar, moet ons vra, kweek dit nie net
papierchristene nie? En is dit nie n swak
voorbeeld wat aan die wêreld gestel word nie? Dit
raak nie net die kerk nie, maar die hele samelewing.
n Mens sou dink dit moet anders wees in die
kerk, maar kom ons wees baie krities wees en vra: Is
die kerk nie een van die grootste sondebokke nie? Is
dit nie die kerk wat die samelewing die idee gee dat
papiere belangriker is as diepte en egtheid nie?
Dis moontlik om ten spyte
van alle letterlike korrektheid die kern van die saak
te mis. In ons samelewing het ons n bra
oppervlakkige manier om bekwaamheid te erken. Ons
dink as iemand die papiere het, kan hulle n job
doen. Veral in hierdie land gee mense somtyds weinig
om vir kwaliteit, solank die papiere sê jy het
n kwalifikasie, is jy reg. En nou is daar nog
n nuwe oppervlakkigheid: as jy die regte
velkleur of geslag as alibi kan inroep, dan verdien
jy mos voorkeurbehandeling. Daar is mense wat die
Nuwe Konstitusie voor ons oë swaai, en lippediens
bewys, maar in hulle harte is hulle nog net sulke
konkelaars soos van ouds. Daar is mense wat
bevordering soek, soos die valse apostels, sonder
n werklike mandaat. Nee, in beide kerk en
samelewing is God die een van wie ons bekwaamheid
moet kom.
Nie almal wat hulself
aanmeld is noodwendig reg nie! Dus, kom ons hou die
kern van n saak in fokus. Kom ons onderskei die
liefde waarop dit werklik aankom. Kom ons ontwikkel
ons geestelike onderskeidingsvermoë. Dan sal ons
bekwaam wees.
Gebed: Here maak ons
as leraars, ouderlinge, diakens, gemeentelede in elke
bediening, deur U Gees werklik bekwaam om in liefde
ons werk van harte te doen. Amen.
[Kommentaar na die preek:
Beteken dit dat kwalifikasies deur gebed verwerf kan
word?
Verdere kommentaar
Ek ... weet nie mooi hoe ek oor getuigskrifte voel nie. Aan die een kant kan dit 'n baie skewe beeld van die mens gee, maar aan die anderkant as dit eerlike papiere is, gee dit tog weer wat 'n mens kan verwag.
Vandag in die alledaagse lewe word 'n mens daagliks bedreig. Die mens, met sy verwonge waardes, skroom nie om tot uiterstes te gaan om sy doel te bereik nie.
Ons kan nie meer glo wat ons sien nie. Miskien is dit beter om eers 'n opinie te vorm as ons die mens se werk en gedrag kan waarneem. Ek wil dus met Paulus saamstem.
Louise Harmsma