Soek SA
  
 

Altavista

Infoseek

SA Godsdiens-akademie

NT Werkgemeenskap van SA

NT Bronne

Neotestamentica

Society of Biblical Literature

Tuisblad van Bobby Loubser

PastorsNet

Welkom! Vandag is
Teken asb. Besoekersboek Bekyk Besoekersboek

Erediens-werkwinkel | Mtunzini-wyksgemeente | 'n Kort Gedagte vir die Dag

Magtiger as die Swaard

Gelewer: Mtunzini 5 November 2000

Voorstelling en Belydenis-aflegging van Yvette, Cara, Sonet, Jacqueline, Helaine en Bennie.

Vooraf

  • Ps 119:9 Hoe kan 'n jongmens sy lewe skoon hou? Deur hom te hou aan u woord!
  • Hoe lyk ’n pad wat nie skoon is nie? Ek stel my voor dis soos na ’n storm of na ’n aardbewing. Orals is daar omgevalle bome en allerlei versperrings. Klippe wat afgerol het. Dit is ’n pad waarop mense nie kan loop nie. Dit vertraag jou en in ernstige gevalle versper jou weg. Dit is ’n beeld van die lewe. Die lewe is ’n pad wat dikwels vol dinge is wat jou laat struikel.

    Veral vir jongmense is dit belangrik dat hulle lewenspad oop is vorentoe. Dat hulle vinnig kan reis na waar hulle heen onderweg is. Beroepe, verhoudings, ens. is van die bestemmings waarheen jongmense onderweg is. Op hierdie pad is daar dikwels obstruksies van dwelms, slegte vriende, slegte verhoudings, gebrek, die leuens wat tv en die samelewing vertel. Daar is die hand van die verlede wat hulle wil terughou.

    As jy jou lewe inrig volgens die Woord, kan niks jou terughou nie. Niks kan jou keer nie. Daar sal versperrings wees, steil opdraande, ernstige dinge wat jou wil terughou. Maar uiteindelik het jy die belofte dat jou pad vorentoe skoon sal wees. Paulus het dieselfde in gedagte as hy skryf: "Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee."

    Vir die nuwe belydende lidmate wil ek sê: Julle pad is oop vorentoe, julle toekoms is veilig in die hande van God. Gaan daarvoor! Mik hoog, mik baie hoog. Mik vir die sterre en julle sal baie ver kom.

    Julle neem vandag die belofte wat julle ouers met julle doop gemaak het op julle eie skouers. Dit is om julle lewens te laat vorm deur die liefde van Jesus, om julleself oop te stel vir sy raad en leiding; om nou self kerk toe te kom sonder dat iemand anders julle hoef aan te moedig.

     

    PREEK

    Openbaring 12:1-11 vertel van ‘n visioen, ‘n gesig, soos in ’n trans gesien, deur die siener Johannes. Jesus gee hom ’n boodskap aan die 7 gemeentes van Klein-Asië. Vandag is dit ’n boodskap aan die sewe dooplidmate wat belydenis aflê en almal anders wat in Jesus glo.

  • 3 ... daar was 'n groot vuurrooi draak met sewe koppe en tien horings, en op sy koppe was daar sewe heerserskrone.

    4 Sy stert het 'n derde van die sterre van die hemel saamgesleep en hulle op die aarde gegooi. Die draak het voor die vrou gestaan wat op die punt was om 'n kind te kry. Hy wou haar kind verslind sodra sy hom in die wêreld bring. ...

    10 Toe het ek 'n stem in die hemel gehoor wat hard uitgeroep het: "Nou het ons God die redding gebring, nou is sy mag en koningskap hier, en die gesag van sy Gesalfde! Die aanklaer van ons medegelowiges is uit die hemel uit gegooi, hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het.

    1. Hulle het self die oorwinning oor hom behaal danksy die bloed van die Lam en die boodskap waarvan hulle getuig het; en hulle het nie hulle lewens so lief gehad dat hulle onwillig was om vir Hom te sterwe nie.

     

    I

    Die Here het magtige wapens in julle hande geplaas. ‘n Vorige Sondag het ons gepraat oor sien, oor ons oë en dit wat ons sien. Vandag praat ons oor die mond. Dit is sekerlik die gevaarlikste wapen wat jy het, want dit kan meer verwoesting aanrig as spiere en gewere. Mense sal nie gewere gebruik as iemand nie vir hulle gesê het om dit gebruik nie. As ons leer om ons monde reg te gebruik, is daar min dinge wat ons meer mag gee

    II

    Bloot deur te praat, kry party mense dit reg om ander mense heeltemal van hulle sinne te beroof. Een van my seuns, ek sal nie sê wie nie, het daardie gawe. As hy ’n ander een wou terugkry, gaan sit hy in ’n hoekie en begin eenvoudig praat totdat die ander een in trane uitbars. Met woorde kan ons ander mense heeltemal afbreek. Dis gewoonlik die manier waarop ontevrede vroue hulle mans terugkry—deur te neul en te sanik totdat hulle hul sin kry. Gewoonlik is hulle 100% suksesvol. Vaders het ’n ander manier om mense met woorde seer te maak. ’n Pa wat sy kinders terg, sê die apostel Paulus (Ef 6:4), maak hulle opstandig. Ons moet die waarheid praat, voeg Paulus by in Ef 5:25-27, en sê, "As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ’n dag kwaad afsluit nie. Moenie die duiwel ’n vatkans gee nie." Deur wat ’n mens sê, gee jy die duiwel ’n houvas op jou lewe.

    Dink ’n bietjie terug aan die kere wanneer jy daardie diep wonde in jou hart begin koester en so bitter jammer voel vir jouself. Dis die herinnering aan wat iemand vir jou gesê het, wat jou so laat voel!

    Ek het ’n video met toesprake van Adolf Hitler. Luister daarna en jy verstaan hoe hy dit reggekry het om ’n wêreldoorlog te begin deur net te praat.

    Hoe ons in die munisipale verkiesings op 5 Desember gaan stem, hang af van ’n klomp gepraat, van hoe mense hulle monde gebruik.

    Deur ’n ligsinnige en afbrekende gebruik van die mond, soos deur baie van die Rap-kunstenaars, word die wêreld ’n lelike en gevaarlike plek.

    III

    Om ons monde reg te gebruik, is ’n groot geheim. In die Bybel leer ons hoe om ons monde so te gebruik dat dit ’n magtige wapen word ten goede.

  • Spreuke 25:11 Goue appels wat in silwer gemonteer is, so is die regte woord op die regte tyd.
  • In ons boodskap vir die kinders en jongmense het ons na Ps 119 verwys. Waarmee sal ’n jongmens sy lewe skoon hou? Deur dit te hou na u Woord.

    In Openbaring 12:11 kom ons nader aan die geheim van wat met die "Woord" bedoel word in daardie psalm.

  • Hulle [die gelowiges] het self die oorwinning oor hom behaal [dit in die laaste geveg tussen Goed en Kwaad] danksy die bloed van die Lam en die boodskap waarvan hulle getuig het; …
  • In die visioen wat Johannes sien, in vervoering deur die Heilige Gees, is daar ’n vrou in die hemel met die son as kleed en die maan onder haar voete. Sy is die kerk van Jesus, wat onder die son van geregtigheid leef. Op haar kop is twaalf sterre, die teken van die nuwe volk van God wat gebou is op die getuienis van die 12 apostels. Sy is ’n barensnood en skree van die pyn. Dis is die verdrukking en vervolging waaraan die kerk en die ware gelowiges onderworpe is.

    Dan sien Johannes ’n ander teken. ’n Vuurrooi draak met sewe koppe en tien horings en op sy koppe was daar sewe heerserskrone. Dit is die bose, rooi van die bloed van die onskuldiges. In die tyd van die openbaring was die Romeinse staat onder leiding van keiser Domitianus op die punt om die Christene te vervolg. Die sewe koppe, herinner aan die stad Rome wat op sewe heuwels gebou is. Die tien horings staan vir tien keisers, ‘n simbool van totale heerskappy. En die krone vir die mag wat dit uitgeoefen het.

    Daar is ’n verwoede stryd aan die gang. Die vrou is op die punt om geboorte te gee, en die draak wil haar kind verslind. Dan word die kind gebore. Hy is bestem is om die volke met ’n ystersepter te regeer. Dit is Jesus. Deur ingrype van God, word die kind gered en weggeruk na die hemel toe. Nou word die vrou na die woestyn verdryf, waar sy 1260 dae in die woestyn versorg word.

    Dit is ’n simboliese getal vir die tyd wat die kerk nog op aarde verdrukking en lyding sal ervaar. Twaalf honderd en sestig dae, is gelyk aan 42 maande. Hierdie simboliese getal is die produk van 7 x 6. Sewe is God se volmaakte getal, en ses is die duiwel s’n. Twee en veertig is dus die getal was sê dat goed en kwaad nog vermeng is. Dit is die tyd waarin ons nou lewe.

    Dan verskuif die visioen na die einde van die tyd. Dit is die laaste oorlog, Armageddon. Migael en sy engele veg teen die Draak en sy engele en behaal die oorwinning. Skielik is daar geen spoor meer van die Draak in die hemel te vind nie, "want die groot draak, die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan genoem word en wat die hele wêreld verlei, is uit die hemel uitgegooi" (12:9).

    Dan is daar ’n stem uit die hemel wat die oorwinning aankondig. Vandag fokus ons net op vers 11. Daar word gesê dat die gelowiges die laaste oorwinning behaal het, nie deur geweld te gebruik of groot wonderwerke te doen nie, maar "danksy die bloed van die Lam en die boodskap waarvan hulle getuig het."

    Aan die begin van die preek het ons nagedink oor hoe magtig die mens se mond is. Hier word dit vir ons duidelik uitgespel. Die gelowiges, dit is ons, sal die laaste oorwinning behaal nie deur met gewere of swaarde te veg nie, maar met ons mond. Gelowiges behaal oorwinning deur die woorde wat uit hulle monde uitkom. Deur van die bloed van die Lam te getuig. In ons taal: Deur die liefde van God teenoor die wêreld te bely.

    Dit is wat ’n belydende lidmaat van Jesus se kerk is: Iemand wat die liefde van God aan die wêreld bely, en so die oorwinning behaal.

    In Openbaring 12:11 word nie die woord "bely" gebruik nie, maar "getuig". Beide beteken amper dieselfde. "Bely" is om dit te sê wat jy nie anders kan nie. Dis soos iemand wat vasgekeer is en gedwing word om die waarheid te praat. Dis wat die wêreld met ons doen. Dit keer ons in ’n hoek vas en vra: "Wie is jy, wat glo jy, waarheen is jy onder weg." En ’n gelowige kan dan nie anders as om te sê: "Ek glo dat God vir ons so lief gehad het dat hy sy eniggebore Seun gegee het…".

    Die oorwinnaars is hulle wat vasgehou het aan die getuienis, aan die belydenis in hulle harte. Hulle wat selfs nie bang was om te sterf vir hul belydenis nie.

    IV

    Oor hierdie Woord, hierdie getuienis wat ons bely, moet ons ten slotte drie dinge weet.

  • Hierdie Belydenis, kom al van ver af om by ons vandag uit te kom. Dis uitgedra vanaf Jerusalem, na al die uiteindes van die aarde. Teen die jaar 800 is die Duitse stamme gekersten. Nog 800 jaar later het mense met daardie belydenis met statige seilskepe uit Holland hier aangekom. Die belydenis van Jesus liefde was die troos vir menige matroos wat aan skeurbuik gesterf eht. Dit was die troos by die graf, die berusting in siekte, die bemoediging by huwelikke. Dit het saam met die Voortrekkers op hul lang trek gegaan as hul belangrikste boodskap. Dit het saam met die Boere kommando’s gegaan. Die Christelike belydenis het aan derduisende lig gebring en rigting gegee aan derduisende wat ook die oorwinning kon ervaar wat daarmee saamgaan.

    Dis ’n belydenis wat eke dag vars moet wees. Elke persoon moet in elke tyd opnuut die waarheid van die evangelie in sy hart vind en bely. Gister se belydenis werk nie vir vandag nie. Jou ouers se belydenis werk nie vir jou nie. Dis dieselfde Woord, maar een wat elke keer nuut gestalte kry.

    Dis ’n belydenis met besondere krag, wat jou tot aan die einde van die wêreld sal neem. Die woord van belydenis wat uit ons monde uitgaan, is dit wat stede en lande oorwin, wat magtige leërs met die beste wapentuig kan ontbind. Dit kan wêreldryke laat tuimel. Dit kan die magtiges laat sidder en beef. Dit kan die hemel vir die sondaars toesluit, en kan dieselfde hemel vir die nederiges oopsluit. So magtig is die woord van belydenis wat uit ons monde kom. Die belydenis is dat Jesus se liefde die grootste ding in die wêreld is, dat niks ons kan skei van daardie liefde nie. Dat dit ons vrymaak. Dat ons skepsels van ’n liefdevolle Vader is.

  • Dis ’n belydenis wat ons nie maklik sê nie, want ons weet hoe ver ons van die ideaal is, hoeveel dinge daar in ons lewe is wat nie in die teken van Jesus se liefde staan nie. Dis ook nie iets wat goedkoop oor ons lippe kom nie. Maar dis waarin ons oorwinning lê!

    Mag ook van ons wat bely, gesê word wat van die oorwinnaars in Openbaring 12:11 geld:

  • Hulle [die gelowiges] het self die oorwinning oor hom behaal [in die laaste geveg tussen Goed en Kwaad] danksy die bloed van die Lam en die boodskap waarvan hulle getuig het; …
  • AMEN


    LEES GOU 'N SERMOEN

    nuut Dertien kleure groen in die Bo-Kaap Markus 10:46-52 15/11/2000
      Die koning se nuwe vrou Markus 6:17-29 28/09/2000
      Can people do the work of God? Gasprediker: Vernon Robbins, Emory University, Atlanta Matthew 20:1-6 13/8/2000
      Die geheim van Josef se trane Gen 44 16/7/2000
      Die regte plek om te wees Joh 15:1-8 28/5/2000
      Vreemde ontmoeting onderweg na Emmaus Luk 24:13v. 7/5/2000
      Pilatus se Freudiaanse glips Joh 19:5 9/4/2000
      Laat jou perdebrein tem Matt 26:55-70; 1Joh 4:17-18 26/3/2000
      'n Jakkals prys sy eie stert 2 Kor 3:1-6 27/2/2000
      Ligsinnig, maar volgens wie se maatstaf? 2 Kor 1:12-24 13/02/20000
      Jesus se derde opsie Mt 5:39-48 11/10/1989
      Die redding van ons siele Op 3:14-22 08/11/1989
      Wees fluks! Spr 6:6-19 Gen1:26-28. 29/7/1999
      Geloof Gen 11:31-, Hebr 10:23- 13/09/199
      Waar die lydensgeskiedenis begin Gen 3 20/02/199
      Maak 'n knoop in jou das 1 Joh 2:24-29 02/05/1999
      Nuwe mense vir 'n nuwe wêreld Klaagl 5, Op 3:1-3 04/07/1999
      Loon: toekoms-kapitaal 1 Kor 9 26/09/1999
    Jezus in het Midden, preek in Nederlands deur Ds J. H. Neethling Joh 19:18 voor 1904

    Stuur jou naam vir 'n preek af en toe:



    Soek: Gee sleutelwoorde...

    Amazon.com logo



    Bladsy geskep op 16 Feb 2000 deur Bobby Loubser