Soek SA
  
 

Altavista

Infoseek

SA Godsdiens-akademie

NT Werkgemeenskap van SA

NT Bronne

Neotestamentica

Society of Biblical Literature

Tuisblad van Bobby Loubser

PastorsNet

Welkom! Vandag is
Teken asb. Besoekersboek Bekyk Besoekersboek

Erediens-werkwinkel | Mtunzini-wyksgemeente | 'n Kort Gedagte vir die Dag


VREEMDE ONTMOETING ONDERWEG NA EMMAUS

Erediens Mtunzini Sondag 7 Mei 2000

LUK 24:13-24

I

Op die mees onverwagse oomblik kan die Skepper ons ontmoet om die rykdom van sy raadsplan met ons te deel sodat ons begrypende en vertrouende mense kan wees.

II

Die bekende storie van die Emmausgangers is noukeurig aanmekaar geweef. Dis nie verniet dat beklemtoon word dat die dissipels teen namiddag na Emmaus onderweg was nie. Die dorpie was 12 kilometer wes van Jerusalem. Hulle is dus onderweg na waar die son sak. Die ondergaande son word ’n metafoor van hulle gemoedstoestand. Hulle is bedruk. Hulle loop en praat met swaar gemoedere. Hulle hoop is verpletter. Dis die eerste Sondag na Jesus se kruis.

Hulle loop ook twee-twee soos Jesus beveel het. Hulle hou nog die vorm van wat hulle geleer het, maar die betekenis daarvan is weg. Dit het saam met hulle leier aan die kruis gesterf. Hulle het die grootste hoop gehad, maar nou is daar net verbystering.

Hierdie dissipels verteenwoordig ons. Soms skep ons moed en die wêreld lê oop voor ons. Alles lyk moontlik. Alles maak sin. Skielik kom daar ’n trauma wat alles verander. Ek het al mense begrawe wat sulke traumas nie kon hanteer nie. Ek moes van hulle selfs in die lykhuis gaan uitken. So vind ons die twee dissipels onderweg. Hulle kan nie meer in Jerusalem bly nie, hulle moet weg na waar die son binnekort sal sak.

Wie van ons was nie al daar nie? Miskien is dit waar jy vandag is? Daar is nie veel in die onlangse nuus wat ons hoop gee nie. Die rand verswak alweer. Daar is ’n gyselaardrama in die Filippyne. In Zimbabwe veronagsaam ’n president sy eie howe. Kriekethelde word as bedrieërs ontmasker. Besoedeling duur voort. Persoonlike probleme word nie opgelos nie. ’n Rekenaarvirus wat sê "I love you" en jou hardeskyf opvreet, word ’n ironiese simbool van waartoe die wêreld kom. Die ongeloof en sinisme neem toe. En diegene wat beweer dat hulle Christene is, ontstel ons nog ook, met hulle uitspattighede, dwaashede en valse sekerhede (net soos die vroue die Emmausgangers ontstel het met hul berig dat Jesus opgestaan het)..

III

God het egter ’n manier om mense op hul uiterstes te ontmoet. Wanneer hulle soek, sal hulle vind, het Jesus geleer. Maar wanneer ’n mens soek, weet jy egter nog nie of jy sal vind nie. Die koudste en donkerste oomblik van die nag is vlak voor die dageraad. Dis waar die dissipels hulself, figuurlik gesproke, bevind. Soos Jakob toe hy sy donkerste nag by die Jabbokspruit tegemoet moes gaan en ’n Engel van die Here hom opgesoek het toe hy dit die minste verwag het.

Plotseling kom daar ’n vreemdeling wat hulle nie herken nie. As hulle nugter en verstandig was, sou hulle gesien het wie dit was, maar die teks sê hulle was verhinder om die vreemdeling te herken. Soms is dit ook so met ons. In ons vertwyfeling is ons dikwels blind vir die oplossing. Ons sien eenvoudig nie wat voor hande is nie.

Soms dink gelowiges hulle is alleen, maar Een wat sterker is gaan die hele pad met hulle. Die Vreemdeling wat by die twee bedremmeldes aansluit, vra ’n vraag. Hoe opmerklik van die manier waarop Jesus werk. Hy is nie nooit ’n diktator, ’n supermens, wat vir mense reg en verkeerd uitspel nie. Hy hiet en gebied nie. Hy dring homself nie op nie. Hy lei nie die getuienis nie, maar vra empaties:

"Wat is dit wat julle so ernstig met mekaar loop en bespreek?" Met somber gesigte gaan hulle staan,

19 Hy vra vir hulle: "Watter dinge?"

Het jy opgemerk: die twee wat loop, gaan skielik staan toe die vraag gestel word. Dit wys hoe diep dit hulle raak. En dan begin hulle praat. Is hy dan ’n vreemdeling in Jerusalem dat hy nie van al die dinge weet wat die afgelope naweek gebeur het nie? Nadat hulle die vreemde reisgenoot sy onkunde verwyt het, praat hulle aanmekaar en vertel die hele storie. Wat hulle sê, is vir ons kerkgangers oorbekend. Dit is die Paasverhaal, alles wat op Goeie Vrydag gebeur het, maar hulle verhaal is nie een wat van verlossing getuig nie.

Kom ons lees weer wat hulle te vertel het:

19 Hulle antwoord Hom: "Die dinge in verband met Jesus van Nasaret, 'n profeet wat magtig was in woord en daad voor God en die hele volk;

20 en hoe ons priesterhoofde en die lede van ons Raad Hom oorgelewer het om ter dood veroordeel te word, en Hom gekruisig het.

21 Ons het so gehoop dat dit Hy is wat Israel sou verlos. Maar boonop is dit vandag al die derde dag vandat die dinge gebeur het.

22 En nou het 'n paar vroue uit ons kring ons ook nog ontstel. Hulle was vanmôre vroeg by die graf

23 en kon sy liggaam nie kry nie. Hulle het kom vertel dat hulle 'n verskyning gesien het van engele wat gesê het Hy lewe.

24 Sommige van ons mense het ook na die graf toe gegaan en dit net so gekry soos die vroue gesê het, maar Hom het hulle nie gesien nie."

Hierdie is eintlik ’n anti-belydenis. Dis ’n belydenis van teleurstelling, van onbegrip en vertwyfeling. … Dis hoe baie mense se "geloof" vandag daaruit sien. Die vader van die Amerikaanse Konstitusie, Thomas Jefferson, het so ’n belydenis gehad. Hy het nie in wonderwerke geglo nie en het toe besluit om die Bybel oor te skryf. Raai hoe eindig sy Bybel? Dit sluit af met die woorde: "…en hulle het hom in doeke toegedraai en ’n graf gelê."

Op hierdie belydenis van ongeloof, antwoord die Vreemdeling:

25 "Wat 'n gebrek aan begrip en wat 'n traagheid van gees! Glo julle dan nie al die dinge wat die profete gesê het nie?

26 Moes die Christus nie hierdie dinge ly om in sy heerlikheid in te gaan nie?"

27 Daarna het Hy by Moses en al die profete begin en al die Skrifuitsprake wat op Hom betrekking het, vir hulle uitgelê.

Die Vreemdeling besweer hulle blindheid deur te sê dis omdat hulle die Skrifte nie ken nie. Hy begin dan om die Skrif vir hulle uit te lê en te wys hoe noodwendig dit was dat die Christus, die Gesalfde, die Verlosser van Israel, moes sterf om op te staan. Die Messias wat sou kom was geheel anders as die een wat hulle verwag het. Hy het nie gekom in magsvertoon om alles met geweld reg te ruk nie. Dis deur die lyding van die wêreld op Hom te neem, dat hy die oorwinning sou behaal. Lydsaamheid lei tot oorwinning. Hy lê die Skrifte so uit dat hulle die noodwendigheid hiervan nie meer kan miskyk nie. Dit laat hulle nadink.

Uiteindelik nooi hulle tog die Vreemdeling om by hulle oor te bly. Dan breek hy die brood en verdwyn uit hulle sig. Pas dan besef hulle, dit was Jesus wat met hulle was.

32 Hulle sê toe vir mekaar: "Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?"

By die uitleg van die Skrif en die gebruik van die sakrament word blinde oë geopen en harte verwarm.

IV

Hier is vir ons ’n boodskap: Ken die Skrifte.

Daar is ’n patroon in die verloop van dinge. God het ’n plan met die wêreld, net soos met jou lewe. Om hierdie plan te ken, help kopkennis nie. Ons kan al die eienskappe van ’n landkaart ken, en nog steeds niks weet van hoe dit werklik daar is nie. Eers as jy daar was, maak dit al die verskil. Hulle het alles geweet en tog het dit hulle nie gehelp nie. Hulle het net verstandkennis gehad.

Eers in die teenwoordigheid van die opgestane Jesus, leer die dissipels die ware betekenis van die Skrif. Vandag kom baie van ons kom kerk toe, baie ken die Bybel, maar die vraag is of dit ervaarde skennis is. Jy kan ’n dosent in Bybelkunde wees en steeds wees soos iemand wat ’n landkaart van buite ken, maar by die eerste vurk in die pad verdwaal omdat die werklikheid soveel anders is as dit wat jy indirek en van hoorsê verneem het. Miskien is jy vandag onderweg na Emmaus. Terneergedruk, ontnugter, jou hoop verpletter, jou geloof tot niet deur die wreedheid van die lewe.

Daar is nie ’n towerstaf om alles in een oomblik reg te tower nie. maar put inspirasie uit hierdie verhaal. Hierdie was mense soos jy. En toe hulle blind en desperaat was, is hulle deur Jesus self ontmoet. Vir Paulus het daardie ontmoeting dramaties op die Damaskuspad gekom. In die Emmaus-verhaal lees ons van ’n sonderlinge oomblik van herkenning.

30 Terwyl Hy saam met hulle aan tafel was, neem Hy die brood, vra die seën, breek dit en gee dit vir hulle.

31 Toe gaan hulle oë oop, en hulle het Hom herken, maar Hy het uit hulle gesig verdwyn.

Na daardie herkenning vergeet die Emmausgangers van slaap. Hulle begin sommer dadelik terugstap na die plek van hulle trauma, na Jerusalem in die ooste waar die son binnekort sal opkom. So verander hulle skemer in die dageraad van ’n nuwe toekoms. Hulle haas hulle terug na die bokamer na die ander dissipels. En voor hulle hul mond kan oopmaak, het die ander ook ’n storie om te vertel: "Die Here het regtig opgestaan en aan Simon Petrus verskyn!"

Hoe wonderlik wanneer dit met iemand gebeur. Daarna was die dissipels aan die brand. Hulle oë was oop. Wat ons nodig het om te kan glo, is dat ons oë oopgemaak word deur die Heilige Gees self, deur die sakrament van die opgestane Jesus.

Dus, liewe leser, moenie hoop opgee nie. Moenie toegee aan wanhoop nie. Die lewende Jesus kan en sal jou ontmoet. Sodat jy ook kan sê: Eers het ek van hoorsê gehoor en ek kon nie heeltemal glo nie, maar nou het ek self ervaar. Nou weet ek, my Verlosser leef.

LEES NOG 'N SERMOEN

  Pilatus se Freudiaanse Glips Joh 19:5 9/4/2000
  Laat jou perdebrein tem deur volkome liefde Matt 26:55-70; 1Joh 4:17-18 26/3/2000
  'n Jakkals prys sy eie stert 2 Kor 3:1-6 27/2/2000
  Ligsinnig, maar volgens wie se maatstaf? 2 Kor 1:12-24 13/02/20000
  Jesus se derde opsie Mt 5:39-48 11/10/1989
  Die redding van ons siele Op 3:14-22 08/11/1989
  Wees fluks! Spr 6:6-19 Gen1:26-28. 29/7/1999
  Geloof Gen 11:31-, Hebr 10:23- 13/09/199
  Waar die lydensgeskiedenis begin Gen 3 20/02/199
  Maak 'n knoop in jou das 1 Joh 2:24-29 02/05/1999
  Nuwe mense vir 'n nuwe wêreld Klaagl 5, Op 3:1-3 04/07/1999
  Loon: toekoms-kapitaal 1 Kor 9 26/09/1999
Jezus in het Midden, preek in Nederlands deur Ds J. H. Neethling Joh 19:18 voor 1904

Stuur jou naam vir 'n preek af en toe:



Soek: Gee sleutelwoorde...

Amazon.com logo



Bladsy geskep op 16 Feb 2000 deur Bobby Loubser