Society of Biblical Literature Tuisblad van Bobby Loubser Besoekers: |
Welkom! Vandag is Erediens-werkwinkel | Mtunzini-wyksgemeente | 'n Kort Gedagte vir die Dag
LAAT TEM JOU PERDEBREIN DEUR VOLKOME LIEFDE Erediens: Mtunzini 26 Maart 2000 Derde Lydensweek Skriflesing 1 Joh. 4: 17-18 Hiérin het die liefde sy doel volkome met ons bereik: ons het niks te vrees vir die oordeelsdag (krisis) nie, want in hierdie wêreld lewe ons reeds deur die liefde net soos Jesus. Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie. I Miskien ken jy die beroemde spreuk van F D Roosevelt. Te midde van die wanhopige depressie van 1929 sê hy oor die radio aan die burgers van die VSA: "Daar is niks om te vrees behalwe vrees self nie." Die woorde van 1 Johannes 4:17-18 oor hierdie onderwerp sny dieper. Dit voorsien ook n manier om vrees ontslae te raak. In krisisse vrees ons, lui die argument, maar volmaakte liefde dryf die vrees uit. As daar enige opskrif oor die dade van die Here Jesus tydens die laaste dag voor sy kruisiging geskryf moet word, is dit hierdie: "Volmaakte liefde dryf die vrees uit." II Om te vrees, is net menslik. Miskien is jy iemand wat sê: "Ek is vir niks bang nie." Sulke dapperheid sal almal beïndruk, maar daar is vrese diep in ons waarvan ons nie weet nie. Ons gesin het n baie dapper vriendin wat skynbaar vir niks bang is nie, maar as daar klappers geskiet word bevind sy haarself onder die tafel sonder om te weet hoe sy daar kom. Ek self weet wanneer vrees by my oorvat en my dinge laat doen wat niemand verwag nie. Niemand hou daarvan om fisies rondgestamp te word nie, maar as dit met my gebeur, vind daar onheilspellende dinge in my brein plaas. Mense wat andersins normale, liefdevolle en verantwoordelike mense is, verander in redelose diere in n krisis. Nêrens in die Bybel blyk dit duideliker as in die kruisverhaal nie. By elkeen wat betrokke was by Jesus se inhegtenisname en verhoor het daar n lelike sy na vore getree waaroor hulle geen beheer gehad het nie. Die krisis (=dag van oordeel) het verskillende mense verskillend laat optree:
n Mens kan vra: "Waarom het so baie mense hulle kop verloor?" Net soos wat baie mense vandag nog vra waarom die Nazis die Jode gaskamers toe gestuur het. Of: "Wat het die vervolgers van Vlakplaas besiel?" Wat maak dat normale mense in driftige verraaiers, moordenaars en lafhartiges verander? Wat lê aan die wortel van hierdie vergrype? Die antwoord is vrees, n fobie so diepgesetel dat mense nie daaroor beheer het nie. Iemand het dit eendag so verduidelik. Hy het gesê dat elke mens n dieretuin is. Binne hom is n leeu, n vark, n tier en n lam. As die regte sneller afgaan, kom die dier uit en verander die wêreld in n Animal Farm. Vandag verstaan ons dit beter in terme van die funksies van die menslike brein. Ons het nie net een nie, maar drie breine. Heel in die sentrum van ons skedel is daar n primitiewe brein (reptielbrein) wat ons lewensfunksies in stand hou. Dan het ons middelbrein (limbiese stelsel, ook: perdebrein) waar ons drifte en emosies ontstaan. En dan het ons die redelike brein (neocortex). Hierdie drie breine werk normaalweg saam, maar wanneer iets gebeur wat n krisis sneller, word die redelike brein oorweldig met drifte en aggressie uit die ander breine. Dit gaan soos met die spreekwoordelike bullebak in die army vir wie jy met enige woorde kan vloek. Hy lag net. Tot wanneer jy iets oor sy ma sê en hy in n dier verander. Net laas week sit ek in n geselskap waar n vrou sê: "As ek en my man stry kry oor n onbenulligheid, dan betrap ek myself dat ek sommer oor al sy sondes te kere gaan. Ek weet ek moenie, ek wil dit nie doen nie, maar ek kan myself nie help nie ." Wie ons is, word ongelukkig vasgelê in n krisis. Vir ewig sal die mense wat vir Jesus se dood verantwoordelik was, onthou word as lafhartiges, verraaiers en moordenaars. Wat ons vergeet, is dat hulle andersins normale mense wasgoeie ouers, liefhebbende eggenote, wyse raadgewers. As hulle nie beter as ons was nie, was hulle ten minste ook nie slegter nie. III Dit bring ons by vrae soos: Hoe hanteer ek n krisis? Weet ek wanneer die dier in my wil uitkom? Wat kan ek daaraan doen? Die lydensverhaal skets nie net vir ons die afstootlike sy van ons menslike kondisie nie, maar ook die positiewe. Dis die boodskap wat ons vandag daaruit neem. God kan ons help om in die grootste krisis staande te bly. Die groot "Ek Is" beloof om ons in elke "dag van oordeel" te onderskraag. Dis nie net woorde nie. Hy bied n uitweg: Hy voorsien n voorbeeld en Hy staan ons by elke stap van die ons eie kruisweg. Die voorbeeld. Alles wat Jesus gedoen het, het hy "vir ons" gedoen. Hy het dit in ons plek gedoen. Dit is wat ons Jesus se plaasvervangende werk noem. Hy het gely om ons te genees, Hy het onreg verduur om ons vry te spreek. Maar moenie dit verkeerd verstaan nie. Dit beteken nie dat ons net kan terugsit en ontvang nie. Dit wat hy plaasvervangend vir ons gedoen het, het hy gedoen sodat ons dit ook saam met hom kan doen. n Switserse professor het dit eendag so aan my verduidelik: As dit baie gesneeu het in Zürich is die sneeu te diep vir kleintjies om uit die huis te gaan. Maar as n grootmens eerste loop, kan hulle in die spore volg wat hy maak. Dit is wat Jesus vir ons doen, veral tydens sy kruisweg. In plaas van weg te hardloop of n geveg op te sit toe hy in Getsemané in hegtenis geneem is, vra hy vir Judas: "Verraai jy die Seun van die Mens met n soen?" Aan die polisie vra hy: "Was dit vir julle nodig om met swaarde en stokke uit te gaan om My te vang asof Ek 'n rower is?" Voor die hoëpriester moet hy die grofste leuens, fisiese mishandeling en kwaadwilligheid trotseer. Steeds bly hy in beheer. Hy vlug nie soos n bok of veg soos n tier nie. As hulle hom vra: "Is jy die Christus?" dan antwoord hy nederig: "U sê dit." In sy grootste krisis oorwin Jesus sy angs deur liefde. Dis nie dat hy sonder vrees was nie. Hy was nie n James Bond nie. Hy het nie n Rolex aan die arm met allerlei foefies nie (soos ook party tv-predikers nie). Sy sweet soos bloeddruppels in Getsemané herinner ons daaraan dat sy angs maar al te werklik was. Stel jou die toneel voor. Dis nie iets uit n kinderbybel of n skildery nie; dit het werklik gebeur. Die punt is dat Jesus sy angs oorwin het. Omdat hy in volle harmonie met God gelewe het, het hy vir ons die baanbreker geword van seëvierende liefde. Bystand. Deur die Heilige Gees vergesel God ons elke stap van die weg. Wanneer die Gees van die lewende Jesus ons tot liefde inspireer, verdryf dit die vrees. Dit wat Jesus in sy kort tyd op aarde bereik het, het aan die mensdom n nuwe manier van doen gegee, een wat werk. Na Pinkster het honderdduisende hulle grootste krisis tegemoet gegaan sonder om te vrees. Daardie nag toe hy verraai is, het sy dissipeltal op nul gestaan. Almal het hom verlaat. Binne sestig jaar was daar n half miljoen dissipels. Sy lydensverhaal was Jesus se suksesvolste preek, met die Heilige Gees as na-prediker. IV Waaroor dit steeds in die kerk van Jesus gaan, is om van ons, wat die verskriklike neiging het om in diere te verander, liefdevolle mense te maak. Waar die volkome liefde kom, dryf dit vrees uit. Ons word mense wat menslik kan optree in alle omstandighede. Is dit nie n wonderlike ideaal om na te strewe nie? Om grasieus te wees in alle omstandighede, in die groot en klein dinge van elke dag, n teken dat liefde en geloof in ons woon wanneer ons kook, klets, stories vertel, liefdemaak, visvang, die diere kosgee, onkruid uittrek in die tuin, musiek luister, tv kyk. Orals waar liefde inkom, wyk die vrees. Ten slotte, n staaltjie. Baie van ons het die Oscartoekennings die afgelope week gevolg. Hierdie jaar was daar n treffende gebeurtenis rondom die toekenning. Vyf en vyftig van die beeldjies het soek geraak. n Man met die naam Willie Fulgear (61) krap in n vuilishoop in LA en sy voet stamp teen n swaar voorwerp. Hy herken dit dadelik as n Oscar. Hy vind altesaam 53 en bel sy seun om te weet wat hy daarmee moet doen. Die seun kontak die polisie. Toe hulle hom vra wat hy sal doen as hy $50 000 kry wat uitgeloof isen waarvan hy nie geweet het niesê hy hy sal graag uit sy eenslaapkamerwoonstel wil trek en sy seun help om n huis te koop. Een regverdige wat sy menslikheid behou het en nie in n dier verander het toe hy goud sien nie. Dis wat Jesus op sy lydensweg vir ons doen. Hy maak ons menslike mense. * * * In die tuin van Getsemané was dit nie die laaste keer dat Jesus in doodsangs verkeer nie. Die volgende dag aan die kruis beleef hy nog n groter angs. Nog eenmaal dreig dit om hom te oorweldig. "My God, my God waarom het u my verlaat?" roep hy benoud. Maar dan oorwin die liefde en hy roep "Dit is volbring!" voordat hy sy laaste asem uitblaas. Halleluja! Halleluja!
Terugvoer
Die preek ... is vir my interessant. Die stelling dat die mens soos 'n dieretuin is, is waar. Die mens reageer elkeen op 'n unieke manier. Elkeen neem, wat om hom gebeur, waar op 'n eie unieke manier, en hoe hy reageer hang af van ervarings van die verlede, sy morele
waarde-sisteem en ek glo ook dat sy kultuur 'n groot rol speel. Vrees belemmer die mens om rasioneel te kan dink. Die mens se drang op oorlewing kom dan na vore. Louise Harmsma
|
Bladsy geskep op 16 Feb 2000 deur Bobby Loubser