Soek SA
  
 

Altavista

Infoseek

SA Godsdiens-akademie

NT Werkgemeenskap van SA

NT Bronne

Neotestamentica

Society of Biblical Literature

Tuisblad van Bobby Loubser

Argief | Erediens-werkswinkel | Mtunzini-kerk


GEBEDE vir gelowiges

versamel deur Bobby Loubser

Anoniem Chinese Student Paul Tillich Franse Gebed
Frans van Assissi Moeder Theresa Onse Vader nav Kategismus Gebed vir Suid Afrika
Tafelgebed Aandgebed Vir Siekes - Pascal Spreuke in aanvegting

O Jesus, Meester-skrynwerker van Nasaret, wat aan die kruis die mensdom se volkome verlossing met hout en spykers bewerk het; gebruik U werktuie in hierdie werkswinkel so goed, dat ons wat ongevormd na U kom, deur U hande omvorm sal word tot groter skoonheid en diensbaarheid, tot eer van U heilige Naam. (ANONIEM)

Here, verander die wêreld en begin met my. (CHINESE STUDENT)

Here, help my om te kan onderskei tussen dit wat ek kan verander en dit wat ek nie kan verander nie. Help my dan om dit wat kan verander, reg te stel en om te berus by wat ek nie kan verander nie. (PAUL TILLICH)

Here, as ek honger het, gee my iemand om te voed,

As ek dors is, gee water vir hulle dors,

As ek treurig is, gee my iemand wie se droefheid ek kan verlig,

As ek belas is, lê my medemens se laste op my.

Here, as ek ’n behoefte het aan teerheid, gee my iemand wat na liefde smag.

Laat u wil my brood wees, U genade my krag, u liefde my rusplek.

(FRANSE GEBED)

Here, maak my ’n instrument van u vrede,

Dat ek liefde mag bring waar daar haat heers,

Eendrag waar oneindigheid heers,

Hoop waar wanhoop heers,

Blydskap waar droefheid heers.

Gee, Here dat ek nie sal soek om getroos te word nie, maar om te troos,

Nie om begryp te word nie, maar om te begryp,

Nie om te ontvang nie, maar om te gee,

Want wie gee, ontvang; wie homself vergeet, vind;

Wie vergeef, sal vergifnis ontvang.

(FRANSISKUS VAN ASSISI)

Maak ons waardig, Heer, om ons naaste te dien wat oor die hele wêreld in armoede en honger lewe. Gee aan hulle, deur ons hande, vandag hulle daaglikse brood, En gee deur ons liefdevolle begrip aan hulle vrede en blydskap.

(MOEDER THERESA)

Here God, U is ’n liefdevolle Vader vir almal wat in u glo. U is in die hemel sodat u elke oomblik by ons kan wees.

Laat ek niks doen wat u Naam oneer aandoen nie.

Leer my om u reg te aanbid volgens u Woord.

Ek bid dat die hele wêreld U as Koning sal erken en wil nou reeds volgens u wil begin leef.

Ek vertrou op u vir alle liggaamlike en geestelike benodigdhede.

Ek weet dat ek nie vergifnis van u kan verwag indien ek nie my naaste van harte vergewe nie.

Help my staande te bly teen die versoeking van die bose, die wêreld en my eie vlees.

Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

(ONSE VADER, N.A.V. KATEGISMUS)

Gebed vir ons land

God seën Afrika. Sommige soek sekuriteit en ander soek mag, maar help U vir ons om Christus as die Gekruisigde te verkondig. Hy is ’n bedreiging vir hulle wat hulself beveilig, en ’n irritasie vir hulle wat na mag streef, maar vir almal wat geroep is, is Hy die Krag en die Wysheid van God.

Here seën Suid-Afrika: Gee geloof aan hulle wat vir hulle veiligheid vrees. Gee hoop aan hulle wat opstandig is. En gee liefde aan almal.

Tafelgebed

Vader van u kom alle voedsel en energie.

Soos wat U aan ’n kruis die Brood van die Lewe vir ons voorsien het, so ontvang ons ook ons daagliks brood uit u genadige hand.

Versterk ons deur hierdie voedsel om U

met woord en daad steeds beter te eer.

Aandgebed

O barmhartige God, ewige Lig wat skyn in die duisternis, U wat die nag van sondes en alle blindheid van die hart verdryf; U wat die nag verorden het om te rus soos U die dag verorden het om te werk ons bid U gee dat ons liggaam in vrede en stilheid mag rus, dat dit daarna bekwaam mag wees om die arbeid te verduur wat hom opgelê is.

Laat ons slaap matig en nie onordelik wees nie, sodat ons aan liggaam en siel onbevlek mag wees, ja, dat selfs ons slaap tot U eer mag wees.

Verlig die oë van ons verstand, dat ons nie in die dood ontslaap nie, maar altyd ons verlossing uit hierdie ellende verwag.

Beskerm ons ook teen alle aanvegting van die duiwel en neem ons onder U heilige geleide. En aangesien ons hierdie dag nie deurgebring het sonder teen U grootliks te sondig nie, daarom bid ons U, wil ons sondes bedek deur U barmhartigheid -- soos U alle dinge op aarde met die duisternis van die nag bedek -- sodat ons daardeur van U aangesig nie verstoot word nie. Gee ook rus en troos aan alle krankes, bedroefdes en hulle in aanvegting, deur ons Here Jesus Christus.

(OU FORMULIERBOEK)

Gebede vir pasiënte

O Here, ek vra nie gesondheid of siekte of lewe of dood nie, maar dat U my gesondheid en siekte, my lewe en my dood wil laat strek tot u eer, tot my heil, tot welsyn van die kerk en u gelowiges waartoe ek deur u genade hoop om te behoort.

(BLAISE PASCAL)

In aanvegting:

Moet my tog nie in u toorn straf nie, Here,

En my in u gramskap tugtig nie.

Ontferm u oor my, Here, Want my liggaam is uitgeteer.

Ek is heeltemal gedaan.

Hoe lank nog here, voordat u uitkoms gee?

Neem my weer onder U sorg, Here, en red my lewe. Help my, want U is getrou.

Iemand wat dood is kan tog nie U Naam bely nie.

Kan iemand in die doderyk U prys?

Ek is uitgeput van verdriet,

Ek huis die hele nag deur,

Ek deurweek my bed met trane.

My oë het dof geword van verdriet,

Verswak deur wat my teëstanders my aandoen.

Gee pad van my af julle almal wat onreg doen,

Want die Here het ag geslaan op my geroep om hulp,

Die Here het geluister na my smeking,

Die Here het my gebed aangeneem.

Al my vyande sal beskaamd daarvan afkom

Hulle sal verslae staan;

In ’n oogwink sal hulle beskaamd moet padgee.

(PSALM 6)

Spreuke vir siekes in uiterste nood

Ek, ellendige mens, wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood.

Here Jesus, ek kom na u toe wat almal wat vermoeid en belas is uitgenooi het om u rus te ontvang.

Here, Seun van Dawid, wees my barmhartig.

Help my om met Simon van Cirene Sy kruis te dra.

Here, laat U wil geskied.

Ek bid saam met die moordenaar: Dink aan my Here, wanneer U in U koninkryk kom.

O Here Jesus, ontvang my gees.

Vader, in U hande gee ek my gees oor.

Here, U is vir my die lewe en die sterwe wins.

O Here Jesus, as ek straks moet sterf,

Mag ek dan sterwe in u deurboorde hande;

Mag my oog dan breek siende op u kruis;

Mag my oor dan beluister die liefdesklanke uit hemelse tempelsale.

Laat my siel dan hyg om deur u engele gedra te word na die hemelse Jerusalem.

En lê dan die heimweë van die liefde en die bruid as ’n sterwensbede op die lippe:

Ja, kom Here Jesus, ja kom gou Here!

(ANONIEM)




Bladsy geskep op 13 Feb 2000 deur Bobby Loubser